‘n Lig het krag nodig om te skyn!

Ek lees nou die dag iets raak wat my eintlik lekker laat lag het, so met n traan in die oog! “Om die huis skoon te maak terwyl die kinders nog in die huis bly, is soos om n sypaadjie te vee terwyl die Augustus winde waai.” Eintlik maar totaal-en-al hopeloos !

Daar is soveel dinge, groot en klein wat ons energie vat (of dit eintlik steel). En veral teen die einde van die jaar wanneer jou brandstofmeter sukkel om uit die rooi uit te bly het mens al die reserwes nodig!

Nou hoe gemaak? Hoe behou ons daardie energie? Waar kry ons nuwes? Hoe keer mens die diewe wat dit so selfsugtig net neem?

Eerstens dink ek, moet jy weet waar jou krag vandaan kom… beslis nie van hierdie wêreld waar ons so gedurig ‘loadshedding’ en onsekerheid beleef nie… kyk dalk vir n oomblik (in jou besige skedule) net op en weet dat jou krag van die Here kom, vanaf die Een waar die son van deernis altyd skyn.

Mag jy net op die regte plek daarna soek, want wie soek sal Hom vind! Christus is die Lig vir die ganse wêreld en waar daar Lig is verdwyn alle duisternis!

Daar staan in Matteus 11:28 in Die Boodskap vertaling geskryf: “Daarom wil Ek julle uitnooi: Voel julle moeg vir hierdie lewe? Knak julle knieë onder al die probleme en verantwoordelikhede wat julle moet dra? Het julle godsdiens leeg geword sodat dit julle geestelike dors nie meer les nie? Kom dan na My toe! Ja, kom wy jou lewe aan My toe. By My sal jy weer die sin van die lewe ontdek…”

Mag jy moedelose-mens die nodige krag kry om steeds jou lewenslig te laat skyn, want die wêreld het jou so nodig!

Stukkend!

Die wêreld is gebroke, ons sit met soveel seer.

Aih hoe wens ek ek kon dit wegvat en al die hartseer keer.

Party mense baklei hulle lewe lank, ander gee net oor.

Jou hart kan ook net soveel emosies stoor!

Hoe vorm jy sinne as jou woorde stil is?

Hoe skree jy uit bo die gedruis?

Terwyl die harde realiteit steurend in jou ore suis!

Al wat ons het is vandag,

In my wese bid ek vir soveel krag.

Ek bid vir heelwees en vrede

Vir jou en jou familielede!

Maar ek het besef… die lewe gaan sy gang,

En sonder woorde is daar nog dié van sang.

“Genade onbeskryflik groot”

Met u op my pad gaan die lewe stilweg voort!

Deur die jare het ek so baie geleer,

maar deur dit alles is my hart steeds seer.

Ek gun jou n nuwe lewe

een waar jy op arendsvlerke kan swewe…

Vanaand skryf ek spesiaal vir jou…

Mag die Here se liefde julle twee omvou!

Haar superpower

Toe my kinders gebore is het elkeen besondere waarde tot my lewe kom voeg… my dogertjie het my wêreld kom verander en my seuntjie het my laat bly glo in alles goed !

My bladmusiek het n melodie gekry in die vorm van twee kleuterstemmetjies!

Soms verbaas hulle my… dis dan wanneer ek stom geslaan staan oor hulle grenslose en opregte manier van omgee! Ek sien iets van Jesus se barmhartigheid in húlle raak!

Ons dogtertjie is baie lief vir drukkies gee en glo ook n drukkie kan jou sommer baie beter laat voel! En dan druk sy jou hárd… sy maak seker alles wat seer, sleg en hartseer is gaan saam met jou asem uit, sodat jy weer plek kan maak vir nuwe lug en sodoende jou asem weer terug kry!

Ek dink soms het ons ‘grootmense’ ook nodig om net weer ons asem terug te kry! Miskien n tweede- asem, want die lewe slaan partykeer die asem uit ons uit en los ons dan asemloos…

Mag jy vandag voel hoe die Here jou styf vashou, mag jy elke oggend saam met jou nuwe asem… nuwe hoop kry en mag jy nooit totaal-en-al asemloos staan nie, want daar is altyd iemand bereid om vir jou liewe mens n stywe druk te gee !

‘n Gebed vir jou, my liewe kind!

Saans wanneer mamma langs jou lê en jou asem myne word… bid ek vir jou!

Ek bid vir jou gesondheid en dat jy die nodige krag sal hê om elke dag voluit te leef.

Ek bid vir jou beskerming, dat jy altyd sal weet Liewe Jesus is by jou!

Ek bid vir jou geluk… dat jy daagliks die vrugte van God se genade sal pluk.

Vir jou mooi en reine hart, dat jy altyd sal glo soos ‘n kind en die Here in jou elke storie vind!

Mamma bid dat jy jouself genoeg lief sal hê, dat jy jou voetjies op die grond sal hou en jou ogies altyd op die kruis !

Dat jy werklik vir Liewe Jesus sal ken en saam met die Gees sal leef, want dan weet mamma sal jy ook met jou kindervlerkies kan sweef!

Aih hoe lief het ons jou nie… ons harte lag saam, huil saam, is oral waar jy is, jy gee mamma my lewenslus.

Die lewe is soms swaar, maar jy maak sonder twyfel God se liefde vir ons sigbaar!

Kyk nou net…

So ons is nogsteeds by die vakansie… hierdie keer in die vliegtuig!

Dit was die kinders se heel eerste keer wat hulle gevlieg het… my natuurlike instink- kry die mede passasiers jammer, want dit gaan chaos wees! Maar kinders het mos net daardie vermoë om jou te verras juis wanneer jy dit die minste verwag. Hier sit ek en hou Bernard se hand styf vas… toe ons al n rukkie in die lug is besef ek, maar dis eintlik ék wat nogsteeds Bernard se hand vashou en lankal nie meer anders om nie!

Toe is ek al die tyd banger as my liewe seuntjie!

Toe ons so deur die wolke gaan voel ons die onrustigheid van die wolke aan die vliegtuig soos ons saam ruk!

Wat wag vir ons deur die donderwolke? Sonskyn! Die soet strale van die somerson!

Die punt van my storie… die lewe bring dikwels donderwolke oor ons pad wat ons lewe ruk en pluk, maar ons mag nie vergeet van die sonskyn bo hierdie donkerwolke nie!

Die wolke kom en gaan maar die sonskyn bly… net soos die Here se teenwoordigheid! Al versper die wolke soms ons visie kan niks ons van die liefde van God skei nie!

Mag die strale van God se nabyheid saggies op jou gesig val en mag jy weet die Here is met jou!

Soos sandkastele

Daar was n hele ruk terug n fliek met die naam: Dead Poets Society waar n onderwyser gespeel deur die wyle Robin Williams sy studente die waarde van perspektief geleer het! Ook dat dit partykeer nodig is om dinge vanuit n ander hoek te bekyk… dit is wat ek vandag wil probeer doen!

Na n kort wegbreek van son, see en tone in die sand en baie sandkastele bou het ek iets besef… die lewe is baie keer, meeste van die keer… eintlik, maar soos die see. Partykeer word jy uitgespoeg, ander kere weer ingetrek, soms voel jy stoksiel alleen tussen die magdom waters (of mense) rondom jou! Miskien is jy verdwaald, vry of soekend?! Maak ook nie saak hoeveel mooi sandkastele jy bou nie, die golwe kom breek hulle elke keer! Maak ook nie saak hoeveel mooi drome ons het nie, die lewe gebeur…

Die ding is… sandkastele kan breek, maar bou sal ons hulle wéér bou, want dit is net hoe ons mense is. Die lewe leef ons nie, maar ons leef die lewe en die genade van Christus maak dit moontlik! Dat ons tree vir tree, korrel vir korrel kan voortgaan, bou en groei!

Mag jy liewe mens… die Here se genade aan jou lyf, tussen jou tone en in jou hart voel, sodat elke dag al is dit moeilik… moontlik vir jou is!

Oppad skool toe !


​Ek lees eendag dié baie mooi gesegde raak: Die dae is lank, maar die jare kort! Aih en is dit nie so waar nie… Die ongeduld partykeer, om-die-heledag-voel-dit-vir-my skoon te maak, om honger magies te voer, boetie en sussie uit mekaar se hare te hou, om saam te dans op ons gunsteling liedjies, te leer potty train, om tussen deur alles nog lekker te kan lag, om te gesels en saam te droom, om soveel drukkies en soentjies uit te deel vir seerplekkies en partykeer die ure af te tel tot badtyd laat die dae lank voel, maar deesdae voel dié dae net té kort !

Altwee ons kinders gaan skool toe! Baba- en grootkleuterskool toe!

Gaan hierdie mamma hart hierdie nuwe fase van kinders wat grootword oorleef? Gaan hulle okay wees?

Dan dink ek skielik aan die woorde van die lied… Wees stil en weet: Ek is die Heer!

Dit is dan wanneer ek besef dat die Here natuurlik ook saam met ons kinders n pad stap. Dit mag dalk n pad van nuwe uitdagings wees vir hulle, maar dit is beslis n pad vol avonture in die teenwoordigheid van die Here. Selfs hulle twee karnallies is pelgrims op reis saam met Jesus. En is juis daarom nooit alleen nie!

Mamma gun julle twee die wêreld… Al voel die dae soms lank, koester ek elke moment en oomblik saam met julle. Want dié gevoel hou n leeftyd!

Dit is regtig so !


Soveel dinge kan mos op een slag gelyk met n mens gebeur- dan voel dit of jou hele wereld deurmekaar gegooi word. Net so! In n oogwink!

Dit het die afgelope ruk met ons gebeur… en nou n rukkie later, besef ek die Here se omgee en sorg het ons omvou soos n winter wolkombers.

n Mens besef nie wat droogte aan mense doen voor jy dit nie self beleef het nie, voor jy nie saam gevoel het, saam gehuil het en saam gebid en vertrou het nie. Wanneer die dorre aarde smekend wag vir druppels water. En wanneer dit dan uiteindelik reen… Hierdie is nog verhaal van die Here se sorg so na aan my hart.

Of wanneer jy self nie meer antwoorde het op die Hoe? vrae nie en besef dat die Here nie altyd direkte antwoorde gee nie, maar jou wel lei deur donker dieptes na waters waar daar vir jou rus sal wees.

So het elke mens sy eie verhale en ongelooflike stories van hoe die Here al vir hulle gesorg het en steeds doen.

“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?”  Matteus 6:25-26

Wanneer jou omstandighede jou oorweldig, mag jy aan hierdie woorde vashou… dit is regtig so! Die Here gee vir jou om!  En mag die mooie woorde van ‘O Heer my God’ jou agtergrond musiek wees…

O Heer, U sorg vir klein, vir groot, vir alles en U sorg dag na dag vir my, u kind. 

Liewe jy


Liewe jy wat bakhand by die robot staan wie se wêreld rondom jou vergaan.

Liewe jy wat aanhou veg
in dit wat jy glo is reg.

Liewe jy wat swoeg en sweet
om jou kinders te spaar van al die leed.

Liewe jy wat goed wil doen
om mense rondom jou te probeer versoen.

Liewe jy wat leef met soveel seer
ek wens ek kon dit vir jou keer.

Liewe jy wat soekend is
mag jy ook nou en dan rus.

Liewe klein jy wat nog nie alles verstaan
mag jy altyd bly glo aan die son en die maan

Liewe jy wat aanhou baklei
mag die wêreld jou nie vermy.

Liewe jy… mag jy krag en vrede vind
want jy is en bly altyd God se kind!

Groete
Van net nog n jy…

(Melani Rademeyer)

Neem dit in !

Die lewe is n gejaag van oggend tot aand en ek is seker dat ek nie die enigste mier is wat só rond hardloop nie.

Die oggende in ons huis is gewoonlik bietjie chaos, dis myself en die kinders klaar kry, vinnig n koppie koffie sluk, want om dit te geniet is daar nie altyd tyd voor nie, almal en alles in die kar laai en uiteindelik ry!

Gelukkig begin die voorbereiding vir die volgende oggend al die vorige aand, maar die onverwagte het mos altyd so n manier om tog n opwagting te maak… soos byvoorbeeld siek kinders, n baie vuil doek, melk wat deur die aand uitgeloop het, honde wat van vroeg oggend af al blaf, cupcakes wat vir skool gebak en versier moet word en die taak om party oggende Milané se hare te kam sodat dit in haar eie woorde: “… nie so wild lyk nie.”

Mens vergeet partykeer om die klein dingetjies wat sin gee aan jou dag raak te sien en te waardeer. Jou eie twee karnallies wat jou so lekker laat lag, n liewe kind by die skool wat vir jou die mooiste briefie skryf en jou man wat vir jou koffie onvoorwaardelik maak!

“Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het.”  Hebreërs 10:36

Waardeer die mense langs die pad wat jou aanmoedig om te volhard en wees dankbaar vir die wat jou dors wil les met n slukkie water. Neem dit in… haal asem en moet tog nie vergeet om die resies te geniet nie!